SKATKISBOEKE - TREASURE CHEST BOOKS

(Herinneringe van ou boeke is 'n skat om te geniet - Memories of old books is a treasure to enjoy)

WAAR PAS DIE BOEK IN?

Weens beperkte bronne van inligting rakende Afrikaanse sagteband storieverhale wat gedurende die vyftiger jare verskyn het, bestaan daar vandag meningsverskille tussen versamelaars by sekere van die reeks boeke of selfs enkel boeke.   Hier gaan dus gepoog word om meer lig te werp op van die “verskille” wat tans bestaan.  As u weet van enige ander soortgelyke voorbeelde, kontak my dan asseblief sodat dit ook onder die soeklig geplaas kan word vir hopelik meer duidelikheid.

 

WOESTE LAEVELD REEKS
Sekere versamelaars is van mening dat die Woeste Laeveld reeks uit agt en nie ses boeke bestaan nie?  Die name wat betrokke is, is as volg:

 

1. Vlam van die Laeveld - Woeste Laeveld (Dewald Brink en Braam le Roux)
2. Poort van trane - Woeste Laeveld (Dewald Brink en Braam le Roux)
3. Vonnis van die berge - Woeste Laeveld (Dewald Brink en Braam le Roux)
4. Spore in die dou - Woeste Laeveld (Dewald Brink en Braam le Roux)
5. Beminde verraaier - Woeste Laeveld (Dewald Brink en Braam le Roux)
6. Geen vergiffenis - Woeste Laeveld (Dewald Brink en Braam le Roux)
7. Ruiters van die dood - Enkel boek? (Braam le Roux)
8. Hoefslae teen middernag - Enkel boek? (Braam le Roux)

 

Aanvanklik was ek baie skepties toe ek dit die eerste keer gehoor het, weens die feit dat die laaste twee boekies hier bo net een maal uitgegee is, versus twee maal van die ander ses boeke.  Verder staan die benaming “Woeste Laeveld reeks” ook nie op die buiteblad van nommers sewe en agt nie.  Dan is nommers een tot ses die eerste keer gedurende 1950 uitgegee (1955 die tweede keer) en nommers sewe en agt die eerste en enigste keer in 1953.  Nog ’n feit is dat die laaste twee boekies net deur Braam le Roux geskryf is, terwyl hyself en Dewald Brink tesame die ander ses boekies geskryf het.  Na aanleiding van laasgenoemde feite wil dit dus voorkom asof die laaste twee boekies nie deel uitmaak van die Woeste Laeveld reeks nie, of is dit wel korrek so?

 

Meer intensiewe navorsing het egter die volgende interessanthede opgelewer: 
1. Al agt boekies is uitgegee deur Die Goeie Hoop Uitgewers.

2. Die eerste drie boekies se held in die verhaal is Johan Grimbeek, in die opeenvolgende drie boekies is dit Len van Staden en in die laaste twee boekies is die held in beide stories Hein Brandis.

3. Al die verhale speel af gedurende die onstuimige goudkoors tydperk van 1885 - 1887, in die Barberton omgewing van die destydse Oostelike Transvaal.

4. Aan die binnekant van die boekie “Ruiters van die dood staan die volgende: “Soos die ander verhale in die Woeste Laeveld-reeks, is hierdie verhaal boeiend geskryf, en sal die leser dit interessante tydverdryf vind.”

 

Dit wil dus voorkom asof Dewald Brink en Braam le Roux die eerste ses boekies geskryf het, wat almal toe gepubliseer is in 1950.  Braam le Roux het toe op sy eie nog twee boekies geskryf, wat  gedurende 1953 uitgekom het en net die eerste ses boekies is toe weer herdruk gedurende 1955.  Persoonlik is ek nou redelik oortuig daarvan dat die Woeste Laeveld reeks wel uit die betrokke agt en nie ses boekies bestaan nie!

Copyright © 2019 by Pieter Haasbroek. All rights reserved.
Last updated: 9 November 2019